Baba te koop: R400
’n Kinderwelsynsbeampte wat glo babas verkoop het, is moontlik aan die hart van ’n mensemokkelsindikaat.
Me. Sharon Mushokabanji, ’n Zambiër wat in Kindersorg Suid-Afrika se kantoor in Kempton Park aan die Oos-Rand gewerk het, is in Desember verlede jaar afgedank nadat sy betrap is dat sy ’n pleegouer se staatstoelae gesteel het.
Kindersorg het boonop ontdek dat sy voornemende aanneemouers tussen R400 en R6?000 vir ’n kind gevra het.
Rapport het ontdek Kindersorg in Kempton Park is ’n nes van ongerymdhede wat glo pornografie, kindermishandeling en diefstal insluit. Dié haglike toedrag van sake is deels onthul deur me. Elsabe Coetzee, die Oos-Randse kinderaktivis wat verlede jaar ook ’n Zimbabwiese sindikaat blootgelê het wat babas aan bedelaars verhuur het.
Rapport is in besit van ’n Kindersorg-verslag van Februarie waarin bevind word dat die situasie in sy kantoor in Kempton Park “kritiek” is.
Benewens Mushokabanji is die programbestuurder en Kempton Parkse kantoorhoof ook ontslaan omdat hulle, soos Mushokabanji, nie as maatskaplike werkers geregistreer is nie.
’n Vierde amptenaar is ontslaan omdat hy pornografie versprei het.
En in Oktober 2010 is die kinderhawe Graceland gesluit weens bewerings van erge kindermishandeling. Kinders is glo aan pornografie blootgestel en ’n 14-jarige meisie het swanger geraak nadat ’n werker haar verkrag het. Sy moes in die geheim geboorte gee.
Mushokabanji het kinders by Graceland geplaas, maar ook by ’n ander kinderhawe waar ’n tienerseun beweer ’n Nigeriër hom as ’n seksslaaf probeer werf het.
Mushokabanji was glo teenwoordig tydens dié ontmoeting. Sy ontken dit.
Kindersorg het die afgelope week ’n vergadering met top-polisielede gehad nadat die polisie in Kempton Park glo versuim het om bedrogklagte teen Mushokabanji te ondersoek.
Mushokabanji het in e-posse aan Rapport gesê sy het “vreeslike foute” begaan, maar dat die bewerings teen haar “ongelooflik” is.
Sy beweer haar lewe word bedreig en het ’n e-pos aan Rapport gestuur wat glo deur ene Queen Segone geskryf is.
“Ek sal jou keel afsny as jy ooit uitpraat oor daai aanneming … as jy my naam noem, is jy dood,” lui die e-pos.
Sy sê Queen is die skuilnaam van ’n Kindersorg-werker. Mushokabanji beweer talle kinderwelsynsbeamptes versprei kinderpornografie of steel toelaes en skenkersgeld.
Kindersorg het aan die polisie gesê hulle vermoed Mushokabanji is steeds besig met die verkoop van kinders. Sy het lêers, briefhoofde en ’n stempel gesteel toe sy afgedank is. Sy ontken dit.
Mushokabanji bemark haarself nou op sosiale netwerke as die eienaar van ’n agentskap wat met kinders werk.
Sy gebruik verskeie name.
Kindersorg het vyf gevalle uitgewys waar Mushokabanji geld van ouers wou hê voordat hulle kinders kon aanneem. Hulle vermoed daar was tientalle soortgelyke gevalle.
Verskeie voornemende ouers het Kindersorg gekontak om te hoor wat van aannemings geword het.
Mnr. Harold Whiteley (72) , ’n Johannesburgse sakeman, het Mushokabanji in Julie verlede jaar R3?000 vir die aanneming van ’n Mosambiekse kind betaal. Hy sê Mushokabanji het ’n “amptelike” kwitansie op ’n briefhoof met ’n stempel aan hom gegee.
“Ek het gedink dis vreemd, maar sy het gesê die geld is vir regskoste. Ek wou haar ’n tjek gee, maar sy het net kontant aanvaar.”
Whiteley sê hy het in Januarie nog ’n oproep van Mushokabanji gekry. Sy wou nog R3?000 hê. “Ek is Kindersorg toe om haar te gaan spreek. Toe vind ek uit sy’s afgedank en ek het ’n klag by die polisie ingedien.”
Toe sy ’n derde keer bel, het hy haar gevra om die geld by sy huis te kom haal.
“Ek het die ondersoekbeampte in Kempton Park gebel en gesê hulle moet haar in hegtenis kom neem.
“Kort voor die ontmoeting het hy laat weet hy’t ’n ander saak en kan nie kom nie. Toe kanselleer ek met haar.”
Die indiensneming van drie ongeregistreerde maatskaplike werkers deur Kindersorg het verreikende gevolge.
Hulle het statutêre dienste gelewer wat kan beteken dat al hul hofverslae, getuienis en voorleggings ongeldig kan wees.
Mushokabanji het ontken dat sy gelieg het oor haar akademiese kwalifikasies en ons genooi om dit te inspekteer.
Sy het ’n graadsertifikaat van die Mulungushi-universiteit in Zambië wat dit stel dat sy in Junie 1997 gegradueer het.
Maar dié universiteit het eers in 2008 sy deure geopen.
;?Dit is danksy Coetzee se ingryping dat die Graceland-kinderhawe gesluit is.
’n Werker by Graceland het haar gebel om hulp te vra nadat die 14-jarige meisie verkrag is. Sy is meegedeel dat Graceland-personeellede dagga rook voor die kinders en hul vigsmedikasie weerhou. Coetzee sê sy moes Kempton Park se hooflanddros met die media dreig voor hy die kinders na ’n veilige plek laat verskuif het.
“Kindersorg aan die Oos-Rand bestaan nie. Die welsynsdepartement en die polisie gee nie om nie. Hierdie kinders is ’n tydbom wat wag om te ontplof.” – Jacques Pauw
