Tuis » Investigations, Social

Twitter-gety draai flink

Submitted by on May 27, 2012 – 1:51 pmNo Comment

Kan ’n mens die temperatuur van die nasionale debat meet? Andrew Trench en Jeanne van der Merwe het die afgelope week deur duisende Twitter-boodskappe gewaad op soek na ’n antwoord.
’n Mens kan aan min dinge die laaste tyd dink wat die nasionale debat so volledig oorheers het as die sage oor Zuma se “spies”.
Daar was nêrens om weg te kruip nie. Die koerante, radio-omroepers, die ou langs jou in die tandarts se spreekkamer?.?.?. Almal het ’n mening wat hulle wil deel.
Nêrens anders was dit duideliker as op die sosiale media soos Twitter en Facebook nie.

Anders as Facebook, waar mense gewoonlik nét met hul vriende gesels, is die goed wat mense op Twitter kwytraak egter daar vir almal om te sien.
Omdat dit ’n heeltemal oop en demokratiese gesprek is (mits jy toegang het tot ’n selfoon of rekenaar), is dit ook ’n unieke geleentheid om die menings van ’n groot aantal Suid-Afrikaners oor ’n spesifieke onderwerp te toets.
Media24 se ondersoekspan het dus Maandag, toe die debat op Twitter net begin vlam vat het, ’n unieke projek begin om die temperatuur van dié debat te probeer meet. Ons het ’n rekenaarprogram geskryf wat Twitter-boodskappe versamel wat oor die Brett Murray-debakel handel en wat besonderhede van elke deelnemer of “twieter” notuleer.
Die twiets – teen Woensdagmiddag is meer as 20?000 deur 11?000 mense gestuur – is toe ontleed met sagteware wat die sentiment van elke boodskap kan bepaal. Die program soek dus vir woorde wat daarop dui dat die skrywer saamstem of verskil oor die onderwerp waaroor gesels word, in dié geval Murray se skildery of, ná Dinsdag, die feit dat dit gevandaliseer is.
Uiteraard het die volume van twiets drasties toegeneem die oomblik toe die skildery beskadig is: van 1?700 twiets voor die voorval tot ’n allemintige 18?000 daarna. Dit het natuurlik ook die ontleding daarvan uitdagender gemaak.
Uit wat ons weet oor die debat en op grond van die eerstehandse lees van ’n paar van die duisende twiets uit elke kategorie, voorspel ons dat die debat vóór die vandalisme oorheers is deur die kwessie van spraakvryheid. Deelnemers het oor die algemeen óf Murray se reg om sy skildery uit te stal verdedig óf Zuma se standpunt ondersteun dat sy waardigheid aangetas is.
Ná Woensdag het dit grootliks ’n debat geword oor die vandale. Was hulle reg of verkeerd?
Dit is opmerklik dat daar ’n reuse-verandering in sentiment in Johannesburg was. Voor die aanval was die negatiewe en positiewe sentiment bykans gelyk. Met ander woorde, vir elke twiet wat Murray se spraakvryheid verdedig het, kon jy een verwag wat dink hy het nié die reg nie.
Ná die aanval het Johannesburgers egter baie meer gepolariseerd geword. Vir elke sewe “positiewe” twiets is daar nou net een negatiewe twiet.
Waaroor hulle “positief” of “negatief” was, is nie altyd so maklik meetbaar nie, maar ons verwagtings is dat vir elke een wat dink die beskadiging van die skildery was sleg (“negatief”), daar sewe sou wees wat dink dit was goed (of “positief”).
Met dít in gedagte is dit interessant om na Durban, die grootste stad in Zuma se tuisprovinsie, te kyk: Voor Dinsdag was daar drie “negatiewe” twiets (mense wat waarskynlik negatiewe goed oor die skildery sê) vir elke “positiewe” twiet.
Ná die vandalisme spring dit skielik om na vyf positiewes vir elke negatiewe, met ander woorde vir elke vyf wat die vandale goedpraat, is daar net een wat nie saamstem nie.
Kaapstad, Murray se tuisstad, is net so interessant.
Voor die vandalisme het die positiewes die negatiewes met 17 teenoor 1 oorheers. ’n Mens sou raai dat die “positiewes” dié is wat die argument van vryheid-van spraak sterk bevorder.
Ná die vandalisme skrik Kaapse twieters skielik wakker. Tot in daardie stadium het ons net 250 twiets in ons Kaapse databasis gehad.
Skielik stroom daar 2?000 meer in en verskuif die sentiment heeltemal.
Vir elke een wat die vandale se optrede as negatief beoordeel, is daar nou ses wat hulle daarvoor aanprys.
Omdat die rekenaarmodel net sentiment toets en nie die onderwerp waaroor getwiet word kategoriseer nie, is daar gebreke in ons steekproef, veral in ’n omgewing waar die debat so radikaal verskuif het soos die afgelope week.
Tog is dié projek, sover ons kan vasstel, een van die min kere dat ’n media-organisasie enige plek ter wêreld twiets probeer ontleed het om ’n groot groep mense se sentiment te bepaal.
Die Los Angeles Times het dit al gebruik om mense se reaksie op Oscar-wenners te toets en Politico (’n spesialis- politieke nuusorganisasie) het met Facebook saamgespan om gevoelens oor die Republikeinse presidensiële benoemingstryd te bepaal.
Projekte soos dié steun sterk op ’n studieveld wat rekenaartaalkunde of computational linguistics genoem word en behels pogings om rekenaars te leer om sentiment en mening te meet deur na sekere woorde te soek.
Ons het ’n program met die naam Chatterbox gebruik wat ontwikkel is deur navorsers van die Universiteit van Londen. Om die program “af te rig” het hulle 119 miljoen twiets ontleed.
Hulle maak daarop aanspraak dat hul algoritmes so goed is dat hul klassifikasie van ’n twiet as “positief” of “negatief” agt uit tien keer sal ooreenstem met wanneer mense dit self doen.
Andrew Trench en Jeanne van der Merwe is lede van Media24 se ondersoekspan.

Leave a comment!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

This is a Gravatar-enabled weblog. To get your own globally-recognized-avatar, please register at Gravatar blog.


+ 5 = fourteen