Tuis » Afrikaans, Investigations

Talle dagvaardigings oor LUR’e se jaagboetes

Submitted by on October 19, 2012 – 12:49 pmNo Comment

ATHANDIWE SABA
DIE ampsmotor van Gauteng se LUR vir Finansies, Mandla Nkomfe, het binne twee jaar amper R100 000 in spoedoortredingboetes opgegaar, waarvan een saak so ernstig is dat dit in die hof gaan draai.
Die LUK vir Gemeenskapsveiligheid, Nonhlanhla Faith Mazibuko, se ampsmotor het so vinnig gery dat agt hofdagvaardigings daarteen uitgereik is.
Die besonderhede, wat bevat is in rekords van verkeersoortredings, het nou vir die eerste keer die lig gesien na Beeld nege maande lank moes sukkel om die inligting te bekom.
Drie staatsdepartemente in Gauteng het aanvanklik geweier om hul rekords in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting vry te stel.
Volgens die drie departmente word LUR’e vrygestel van boetes vir spoedoortredings en geniet hulle dieselfde vrywaring van vervolging as ambulansbestuurders en ander noodbeamptes. Die ander LUR’e het daarenteen hul voertuie se rekords beskikbaar gestel.
Media24 se ondersoekspan het ‘n hofaansoek teen die departmente van Gemeenskapsveiligheid; Finansies; en Plaaslike Regering en Behuising gebring om hulle te dwing om die rekords te oorhandig.
Die Gauteng Suid Hooggeregshof het twee weke gelede die departemente beveel om die rekords te oorhandig.
Die dokumente skilder ‘n prentjie van hoe politici op gereelde basis die spoedgrens oorskry en ook hoe hul spoedoortredingboetes gewoon deur die owerhede gekanselleer word.
Die meeste van die boetes is uitgereik teen die LUR vir Finansies se ampsmotor as gevolg van spoedoortredings in woonbuurte waar die spoedperk 60km is.
Die ampsmotor is op 26 Mei vanjaar in ‘n spoedlokval betrap terwyl dit teen ‘n snelheid van 172km/h in ‘n 120 sone gery het. ‘n Dagvaardiging om in die hof te verskyn is in die geval uitgereik maar die saak is hangende.
‘n Ongeluksverslag wat in die rekords ingesluit is, wys dat die amptelike voertuig verlede jaar in Maart – op pad na die LUR se woning – in ‘n ongeluk op die R24 naby East Gate betrokke was. Niemand is beseer nie.
Nkomfe het sy jammerte oor die boetes uitgespreek. “Dit bied nou ‘n geleentheid om te verseker dat daar in die toekoms met groter versigtigheid betreffende die padreëls opgetree moet word omdat dit in belang van padveiligheid is,” het Nkomfe gesê.
Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid se motor het sedert Januarie boetes van R15 000 opgegaar en het agt dagvaardigings ontvang om in die hof vir spoedoortredings te verskyn.
Die amptelike voertuig is op 26 Februarie twee keer gevang waar dit 184km/h in ‘n 120km sone gery het en daarna weer toe dit teen 200km/h in ‘n 120km sone gejaag het.
Na voorleggings aan die verkeersowerhede is daar volgens die rekords agt boetes gekanselleer.
Die Departement van Plaaslike Regering en Behuising het die rekords van 11 spoedoortredingboetes oorhandig maar Beeld het vasgestel dat daar ten minste 15 ander boetes is wat aan die ampsmotor gekoppel word maar wat nie geopenbaar is nie.
Hierdie ampsmotor is gebruik om die voormalige LUR vir Vervoer, Humphrey Mmemezi, gedurende sy termyn mee rond te ry. Mmemezi se ampsmotors was ook verlede jaar in twee ongelukke betrokke, maar die department het nie die rekords daaroor beskikbaar gestel nie.
Die department is gevra om dit te verduidelik en om volle besonderhede daaroor te verskaf soos deur die hof gelas is.
Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK), het gesê omdat die LUR’e se motors deur polisie-bestuurders gery word, mag die amptelike voertuie van boetes vrygestel word.
“Die department gebruik seker die wet om die voorleggings te maak,” het hy bygevoeg.
“Die motorbestuurder moet in gevalle waar die LUR bedreig mag wees eie diskresie gebruik om vinniger te ry of nie,” het Ismail gesê.
Harold Dembovsky, die nasionale voorsitter van Justice Project South Africa, het gesê dat hierdie minagting van die padverkeerswette ongeregverdig is.
“Om laat te wees vir ‘n vergadering of middagete is nie rede om verkeerswette te breek nie. Die wet sê spesifiek dat die enigste keer wat ‘n amptelike voertuig die spoedgrens mag oorskry is wanneer die blou ligte en sirenes aan is,” het Dembrovsky bygevoeg.

Leave a comment!

Add your comment below, or trackback from your own site. You can also subscribe to these comments via RSS.

Be nice. Keep it clean. Stay on topic. No spam.

You can use these tags:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

This is a Gravatar-enabled weblog. To get your own globally-recognized-avatar, please register at Gravatar blog.


9 − = three