Boeremag bring regstappe oor meeluister-bewerings
JACQUES PAUW
Die veroordeelde Boeremaglede het hul regspanne opdrag gegee om dringende aansoeke te bring om die dekade-lange hofsaak waartydens hul aan hoofverraad skuldig bevind is, nietig te laat verklaar.
Dit volg ná Rapport se onthulling vroeër vandeesmaand dat ‘n gewese polisie-offisier, Deon Loots, ‘n beëdigde verklaring gemaak het waarin hy vertel van ongerymdhede tydens die ondersoek en hofsaak.
Loots sê in sy verklaring die polisie het getuienis op die Boeremag-lede geplant, hul aangehits om misdrywe te pleeg en die konsultasies met hul regspanne meergeluister.
Loots was een van die ondersoekers in die Boermag-saak en die hanteerder van die agent wat die regses geïnfiltreer het en teen hul getuig het.
Loots, wat ‘n kaptein was in die beleërde misdaadintelligensie-eenheid (MIE), het vandeesweek gesê hy is bereid om in enige hof te getuig en die polisie se misdadigheid oop te vlek.
Rapport het intussen verneem dat nóg drie polisiemanne en agente beëdigde verklarings gemaak het waarin hul Loots se bewerings staaf en verdere inligting oor MIE se ondersoek teen die Boeremag maak.
Altesame 20 Boeremag-samesweerders is in Julie en Augustus aan hoogverraad skuldig bevind in die hooggeregshof in Pretoria.
Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, sê indien die bewerings onder eed die waarheid is, kan die Boeremag-saak nietig verklaar word. Die beskuldigdes kan dan selfs vrygelaat word.
Die hofsaak duur al nege jaar en kos sowat R100 miljoen. Die hofrekord beloop 50 000 bladsye en bewysstukke is in verskeie stoorkamers verpak. Die staat het sover 159 getuies geroep.
Paul Kruger, ’n prokureur wat vir 13 van die Boeremaglede optree, het vandeesweek bevestig dat sy kliënte hom opdrag gegee het om alles moontlik te doen om die saak nietig verklaar te kry.
Dr Lets Pretorius, een van die Boermag-veroordeeldes wat op borgtog uit is, sê hy het sy prokuereur opdrag gegee om die misdadigheid van die polisie oop te vlek.
Kruger sê die verskillende regspanne het vandeesweek vergader om taktiek vorentoe te bespreek.
Die Boeremag-saak hervat in Januarie in die hooggeregshof in Pretoria wanneer die veroordeeldees getuienis ter versagting moet aanbied.
Verskeie staar lewenslange tronkstraf in die gesig.
Kruger sê die regspanne gaan moontlik dié geleentheid gebruik om die nuwe getuienis aan regter Eben Jordaan voor te lê.
Hul gaan ook waarskynlik dan vra dat die staat se respan onder leiding van adv Paul Fick, SC, hom aan die saak onttrek omdat hy by van die bewerings betrek word.
Die regspanne het opdrag gekry om dringend met Loots en die ander polisiemanne en agente te vergadering ten einde hul samewering te verkry.
Loots sê hy staan by wat hy gesê het en sal die Boeremag-veroordeeldes in hul aansoek bystaan.
“Ek is nie regs nie, maar reg en geregtigheid is hier verkrag en ek sal my deel bydra om die saak reg te stel,” sê Loots.
Hy glo dat die ander polisiemanne en agente wat verklarings afgelê het, voel net soos hy.
Die Pretoriase advokaat wat Loots en die ander verteenwoordig – hy wil nie sy naam genoem hê nie – is in die buiteland en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Hy het vroeër aan Rapport gesê dat hy persoonlik Loots en die ander se verklarings aan die “hoogste gesag” oorhandig het.
Loots het vandeesweek gesê dat die kommissaris van polisie, Mangwashi Phiyega, in besit van sy verklaring is.
Rapport het die afgelope drie weke vergeefs probeer om kommentaar van die polisie oor die verklarings te kry.
Die nasionale woordvoerder van die polisie, kol Tummi Shai, het twee keer onderneem om na Rapport toe terug te kom, maar dit nooit gedoen nie.
Intussen het ‘n senior offisier in die MIE aan Rapport gesê dat Loots se bewerings onwaar is en dat hy as ‘n leuenaar ontbloot gaan word.
Hy het gesê sy en sy gesin se lewens word nou bedreig.
